San Marino plaas hoop op inentingstoerisme

SAN MARINO (Reuters) — Mense het voorheen na San Marino gegaan om belasting te vermy of om seëls te versamel, maar nou maak hierdie mikrostaat, wat omring word deur noordelike Italië, op 'n nuwe manier staat om besoekers te lok: inentingstoerisme.

Europa se kleinste onafhanklike staat naas die Vatikaanstad en Monaco het laas maand begin om die Russiese Spoetnik V-Covid-19-inenting aan toeriste te bied. Ongeveer 250 het tot dusver hul eerste dosis ontvang.

Hotelle hanteer die reëlings nadat hulle 'n epos van 'n toeris ontvang. Die besoekers bly oor die algemeen drie dae vir beide die eerste en tweede inentings.

"Die besoeker arriveer en bly vir drie dae. Die dag na hulle arriveer vergesel ons hulle om die eerste inenting te ontvang en dan kom hulle weer na 21 dae terug vir die tweede inenting," vertel Francesco Brigante, direkteur van die IDesign-hotel.

Hierdie program, wat San Marino se toerismesektor help om te herstel na 'n daling in die aantal besoekers weens Covid-19, is beperk tot persone wat nie in Italië woonagtig is nie.

Igor Persjin, 'n Rus wat in die Tsjeggiese Republiek woon, het saam met sy vrou na San Marino gereis en by die IDesign-hotel gebly na hulle op Russiese TV te hore gekom het van die program.

"Dit is moeilik om ingeënt te word in die Tsjeggiese Republiek, veral vir buitelanders. Ek wou slegs die Spoetnik-inenting in San Marino ontvang, dus het ek 'n hotel bespreek" het Pershin gesê.

San Marino is nie 'n lid van die Europese Unie nie en Spoetnik V is nog nie goedgekeur vir gebruik in die Europese Unie nie. Die inenting word steeds deur die alliansie se beheerliggaam, die Europese Geneesmiddelsagentskap, ondersoek.

Buiten hotelkostes is die koste vir twee dosis van die inenting ongeveer 50 euro.

"Ons het van Duitsland af hierheen gekom, want ons wil met Spoetnik V ingeënt word en ook omdat ons nog nie 'n afspraak in Duitsland ontvang het nie," het Giolele Cozzolino gesê.

Hierdie landingeslote grondgebied van 62 vierkante kilometer het Spoetnik V in Februarie begin gebruik en het tot dusver 25 000 van hul 34 000 inwoners ingeënt.

San Marino, met sy oorsprong in die vierde eeu, het 'n sterk banksektor. In 2017 het hulle 'n nuwe hoofstuk begin nadat die Ekonomiese en Finansiële Sakeraad van die Europese Unie San Marino van hul swartlys van nie-samewerkende lande verwyder het.

📧 📝
Harvard

Berlenga, Matteo; Pullella, Philip; Franchitti, Fabiano; Biles, Eleanor (3 Junie 2021). "San Marino plaas hoop op inentingstoerisme". Die Telegraaf. <https://www.telegraaf.co.za/2021/6/3/san-marino-hoop-vir-hupstoot-met-inentingstoerisme>. Besoek op 13 Junie 2021.

Afrikaanse Wikipedia

<ref>{{siteer web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/6/3/san-marino-hoop-vir-hupstoot-met-inentingstoerisme |title=San Marino plaas hoop op inentingstoerisme |naam1=Matteo |van1=Berlenga |naam2=Philip |van2=Pullella |naam3=Fabiano |van3=Franchitti |naam4=Eleanor |van4=Biles |webwerf=[[Die Telegraaf]] |datum=3 Junie 2021 |toegangsdatum=13 Junie 2021 |taal=af}}</ref>

Engelse Wikipedia

<ref>{{cite web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/6/3/san-marino-hoop-vir-hupstoot-met-inentingstoerisme |title=San Marino plaas hoop op inentingstoerisme |first1=Matteo |last1=Berlenga |first2=Philip |last2=Pullella |first3=Fabiano |last3=Franchitti |first4=Eleanor |last4=Biles |website=[[Die Telegraaf]] |date=2021-06-03 |access-date=2021-06-13 |lang=af}}</ref>