Macron erken Franse verantwoordelikheid in Rwandese volksmoord

Franse president wil verhouding met Afrika by gedenktoespraak in Kigali vernuwe

Adriaan Joubert
29 Mei 2021

Die president van Frankryk, Emmanuel Macron, het tydens 'n toespraak by die Kigali-volksmoordgedenkteken Franse verantwoordelikheid in die Rwandese volksmoord van 1994 erken en om vergifnis gevra.

Macron het gesê dat Frankryk onder president Francois Mitterande bygestaan het terwyl 800 000 slagoffers tydens 100 dae van massaslagtings uitgemoor is.

'n Verslag van 'n Franse paneel in Maart het bevind dat Frankryk gedeeltelike verantwoordelikheid vir die Rwandese volksmoord dra, maar het dit van aandadigheid vrygespreek.

Macron het nie formeel om verskoning gevra nie, en het benadruk dat Frankryk nie medepligtig was nie. Hy het wel erken dat dat Frankryk waarskuwings van 'n naderende volskmoord geïgnoreer het. "Frankryk het oorwegend verantwoordelik geword vir 'n verval na die ergste uitkoms, selfs al het dit juis probeer om dit te vermy," het hy gesê.

'n Rwandese verslag het bevind dat "Franse amptenare die Rwandese regering bewapen, geadviseer, opgelei, toegerus en beskerm het" en het Parys daarvan beskuldig dat hy 'n "medewerker" met die ekstremistiese Hutu-regering was.

Paul Kagame, wie se destydse rebeltroepe gehelp het om die volksmoord te beëindig, en wat nou president is, het Macron se toespraak verwelkom. "Polities en moreel was dit 'n daad van geweldige moed. Hierdie risiko's het vrugte afgewerp omdat beide kante in goeder trou opgetree het. Dit was belangrik om nie die proses af te jaag nie. Die feite moes behoorlik vasgestel word," het Kagame Donderdag gesê. "Die waarheid genees."

Onder Macron poog Frankryk om betrekkinge met Afrika te herstel deur 'n verhouding wat voorheen deur koloniale geskiedenis oorheers is en 'n siening onder Afrikane dat Parys steeds 'n neokolonialistiese beleid volg, te herkalibreer. Hoewel Franse troepe in 'n stryd teen Islamistiese militante in die Sahel vasgevang is, probeer Macron om die verhouding op 'n sakebasis te plaas en het Parys se fokus verder as Franssprekende Afrka uitgebrei.

Hoewel Rwanda nie 'n Franse kolonie was nie, word toenadering as belangrik beskou, deels omdat Kagame, wat die land van 13 miljoen inwoners sedert 1994 regeer, as een van die invloedrykste leiers op die kontinent beskou word.

Kagame het in 2006 die Franse ambassadeur geskors en het in 2008 die nasionale kurrikulum van Frans na Engels verander. Rwanda het in 2009 by die Britse Gemenebes aangesluit.

In 2019 het Macron se regering die aanstelling van Louise Mushikiwabo, 'n voormalige Rwandese minister van buitelandse sake wat Franse amptenare daarvan beskuldig het dat hulle "letterlik met moord weggekom het", tot hoof van 'n organisasie van Franssprekende lande ondersteun.

In 'n onderhoud met die Financial Times het Mushikiwabo oor Macron gesê: "Hy is opreg daarin geïnteresseerd om die tipe verhouding wat Frankryk met Afrika het, te hernu." Macron het volgens haar die "politieke moed om sommige van die spoke van die verlede te konfronteer".

Freddy Mutanguha, visepresident van Ibuka, 'n sambreëlgroep van organisasies vir volksmoordoorlewendes en self 'n oorlewende, het gesê hy waardeer Macron se inisiatief. "Wat ons in sy toespraak besef het – jy kan die medelye aanvoel, en jy kan die bereidheid om die foute van die verlede reg te stel, aanvoel," het hy gesê.

📞 📧 📝
Harvard

Joubert, Adriaan (29 Mei 2021). "Macron erken Franse verantwoordelikheid in Rwandese volksmoord". Die Telegraaf. <https://www.telegraaf.co.za/2021/05/29/macron-erken-franse-verantwoordelikheid-in-rwandese-volksmoord>. Besoek op 20 September 2021.

Afrikaanse Wikipedia

<ref>{{siteer web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/05/29/macron-erken-franse-verantwoordelikheid-in-rwandese-volksmoord |title=Macron erken Franse verantwoordelikheid in Rwandese volksmoord |naam1=Adriaan |van1=Joubert |webwerf=[[Die Telegraaf]] |datum=29 Mei 2021 |toegangsdatum=20 September 2021 |taal=af}}</ref>

Engelse Wikipedia

<ref>{{cite web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/05/29/macron-erken-franse-verantwoordelikheid-in-rwandese-volksmoord |title=Macron erken Franse verantwoordelikheid in Rwandese volksmoord |first1=Adriaan |last1=Joubert |website=[[Die Telegraaf]] |date=2021-05-29 |access-date=2021-09-20 |lang=af}}</ref>