Turkye forseer Navo-bondgenote om verontwaardiging oor Belarus-vliegtuig te demp, sê diplomate

WASHINGTON/BRUSSEL (Reuters) — Turkye het bondgenote van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) geforseer om 'n amptelike reaksie op die gedwonge landing van 'n passasiersvliegtuig, en die aanhouding van 'n andersdenkende joernalis, Sondag deur Belarus af te water, het twee diplomate wat vertroud is met die saak aan Reuters gesê.

Navo se 30 bondgenote het Woensdag 'n verklaring van twee paragrawe uitgereik waarin hulle die gedwonge landing van 'n Ryanair-vlug om joernalis Roman Protasevich te arresteer, sterk veroordeel. Geen van die strafregtelike stappe waarvoor Baltiese bondgenote en Pole gevra het, is egter ingesluit nie.

Die verklaring was ook nie so fel soos die openbare opmerkings van Navo se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, nie. Hy het die insident as 'n "staatskaping" en as "verregaande" bestempel.

Ankara het daarop aangedring dat geen melding van steun van meer Westerse sanksies op Belarus en oproepe vir die vrylating van politieke gevangenes in die verklaring gemaak word nie, het die twee diplomate voorts gesê. Dreigemente dat Navo sy samewerking met Belarus sou opskort, is ook verwyder.

Turkye se beweegredes was nie onmiddellik duidelik nie.

Volgens diplomate probeer Ankara moontlik om bande met Moskou, Belarus se naaste bondgenoot, te behou, en om ekonomiese betrekkinge met Belarus via Turkish Airlines, wat daaglikse vlugte na Minsk het, te handhaaf. Daar bestaan ook die moontlikheid dat Turkye gretig is om Russiese toeriste hierdie somer ná die Covid-19-pandemie te verwelkom.

'n Toename in koronavirusinfeksies verlede maand en skielike buitelandse reiswaarskuwings het baie vroeë besprekings uitgewis en die vooruitsig vir nog 'n verlore toerismeseisoen vir Turkye, wat op dié inkomste staatmaak om sy hewige buitelandse skuld te delg, laat ontstaan.

Die Turkse buitelandse ministerie het nie dadelik op 'n versoek vir kommentaar gereageer nie.

'n Navo-amptenaar het gesê: "Die verklaring deur die Noord-Atlantiese Raad oor Belarus is deur al 30 bondgenote per konsensus ooreengekom. Ons deel nie die besonderhede van die vertroulike besprekings in die Noord-Atlantiese Raad nie."

Een van die diplomate het gesê dat Stoltenberg al die bondgenote, insluitend Turkye, se ooreenstemming vir die finale teks wat op Navo se webblad gepubliseer is, gewen het om sodoende verdere openbare verdeeldheid te vermy.

Ontsteltenis

Turkye se aandrang op 'n afgewaterde verklaring het 'n aantal bondgenote ontstel, veral Pole, Litaue en Letland, wat vir sterker bewoording gevra het, het die diplomate gesê.

'n Derde diplomaat het gesê dat Ankara se teenkanting hoofsaaklik daarop gemik was om ander bewoording as dié van die Europese Unie (EU), wat voorstelle vir sanksies breedvoerig uiteengesit het, te gebruik. Dit het 'n verbod op vlugte oor die EU-lugruim op die gebruik van EU-lughawens deur Belarussiese lugrederye en 'n beroep op EU-lugrederye om Belarus te vermy, ingesluit.

Turkye is nie 'n lid van die EU nie alhoewel dit al vir baie jare 'n kandidaat is.

"Baie bondgenote was gefrustreerd met Turkye. Dit was belangrik vir Navo om te reageer en dit is onduidelik waarom Ankara (Belarussiese president Alexander) Lukashenko, wil verdedig," het 'n Europese diplomaat, wat by die bespreking teenwoordig was, gesê.

Turkye het die afgelope paar jaar 'n moeilike vennoot vir sommige van die Navo-bondgenote geraak. Hulle het met Frankryk gebots oor Turkse beleid in Libië, met die Verenigde State oor Sirië en met Griekeland oor die energieregte in die Middellandse See.

Turkye het ook lugverdedigingsmissiele by Rusland gekoop, wat volgens Navo 'n teenstander is wat die Weste wil destabiliseer.

Die Verenigde State en die EU het 'n oënskynlike beweging na 'n meer outoritêre bewind onder president Tayyip Erdogan, veral sedert 'n mislukte staatsgreep in 2016, gekritiseer.

Turkye, wat die tweede grootste weermag in Navo het en strategies tussen Europa en die Midde-Ooste geleë is en met kuste aan die Swart- en Middellandse Seë, is egter te groot en belangrik vir die EU of die Verenigde State om te ignoreer.

Ankara bevestig herhaaldelik dat hy Navo steun, maar dat hy die reg het om sy eie soewereine buitelandse beleid na te volg.

📞 📧 📝
Harvard

Siebold, Sabine; Pamuk, Humeyra; Emmott, Robin (28 Mei 2021). "Turkye forseer Navo-bondgenote om verontwaardiging oor Belarus-vliegtuig te demp, sê diplomate". Die Telegraaf. <https://www.telegraaf.co.za/2021/05/28/turkye-forseer-navo-bondgenote-om-verontwaardiging-oor-belarus-vliegtuig-te-demp-se-diplomate>. Besoek op 20 September 2021.

Afrikaanse Wikipedia

<ref>{{siteer web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/05/28/turkye-forseer-navo-bondgenote-om-verontwaardiging-oor-belarus-vliegtuig-te-demp-se-diplomate |title=Turkye forseer Navo-bondgenote om verontwaardiging oor Belarus-vliegtuig te demp, sê diplomate |naam1=Sabine |van1=Siebold |naam2=Humeyra |van2=Pamuk |naam3=Robin |van3=Emmott |webwerf=[[Die Telegraaf]] |datum=28 Mei 2021 |toegangsdatum=20 September 2021 |taal=af}}</ref>

Engelse Wikipedia

<ref>{{cite web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/05/28/turkye-forseer-navo-bondgenote-om-verontwaardiging-oor-belarus-vliegtuig-te-demp-se-diplomate |title=Turkye forseer Navo-bondgenote om verontwaardiging oor Belarus-vliegtuig te demp, sê diplomate |first1=Sabine |last1=Siebold |first2=Humeyra |last2=Pamuk |first3=Robin |last3=Emmott |website=[[Die Telegraaf]] |date=2021-05-28 |access-date=2021-09-20 |lang=af}}</ref>