Hyundai gaan aantal binnebrandenjinmodelle verminder, in EV's belê – bronne

PARYS/SEOEL (Reuters) - Hyundai Motorgroep gaan die aantal motors met binnebrandenjins wat hy aanbied, verminder sodat hy hulpbronne beskikbaar kan stel om in elektriese voertuie (EV's) te belê, het twee persone wat nou bande met die Suid-Koreaanse motorvervaardiger het, aan Reuters gesê.

Hierdie besluit sal die aantal modelle wat deur fossielbrandstowwe aangedryf word met 50% verminder, het een van die mense gesê. Die persoon het bygevoeg dat die strategie in Maart deur topbestuur goedgekeur is.

"Dit is 'n belangrike besigheidsbesluit wat navorsing-en-ontwikkelingshulpbronne beskikbaar stel om op elektriese voertuie, batterye, en brandstofselle te fokus", het die persoon gesê sonder om 'n tydraamwerk vir die plan te gee.

Hoewel Hyundai nie direk op 'n navraag van Reuters oor sy planne vir binnebrandenjinmodelle geantwoord het nie, het hy Donderdag in 'n epos gesê dat hy die anneming van ekovriendelike voertuie soos waterstofbrandstofselvoertuie en EV's versnel.

Hyundai het bygevoeg dat hy gaan mik om die doeltreffendheid van sy binnebrandenjinmodelle in ontluikende markte te verbeter.

Die motorvervaardiger het bygevoeg dat hy mik om sy battery-EV-aanbieding in belangrike markte soos die Verenigde State, Europa en Sjina steselmatig uit te brei met die doel om teen 2040 heeltemal elektries te gaan.

Hyundai Motorgroep, die houermaatskappy van Hyundai Motormaatskappy, Kia Korporasie en Genesis Motor, mik om teen 2025 sowat een miljoen EV's per jaar te verkoop om 'n markaandeel van 10% in die globale EV-mark te behaal.

Met strenger CO2-uitlaatteikens in Europa en Sjina wat hulle in die gesig staar, versnel al die groot motorvervaardigers hul oorskakeling na EV's.

Die enorme koste verbonde aan die ontwikkeling van elektriese voertuie en in die verbetering van die bereik van karbatterye het reeds daartoe gelei dat sommige vervaardigers besig is om hul beleggings in konvensionele enjins te staak.

"Hyundai het opgehou om nuwe dryflyne vir binnebrandenjinkarre te ontwikkel", het een van die persone gesê.

PSA Groep het in November, kort voor hy met Fiat Chrysler saamgesmelt het om Stellantis te vorm, gesê hy belê nie meer in binnebrandenjins nie.

Daimler het onlangs sy binnebrandenjins vernuwe en uitvoerendes sê dat die nuwe generasie hom deur die elektrifiseringsproses sal sien.

Somme motorvervaardigers het reeds planne aangekondig om heeltemal elektries te gaan, met Swede se Volvo, wat deur Sjina se Geely besit word, wat gesê het dat dit teen 2030 so sal maak.

Ford Motormaatskappy sê sy aanbieding in Europa sal teen dieselfde datum ten volle elektries wees.

Die besluit is veral belangrik vir Hyundai, wat saam met Kia een van die wêreld se tien grootste motorgroepe is, omdat hy een van die grootste reekse van enjin- en ratkastegnologieë in die industrie het.

Die groep sal sy strategie om heeltemal na elektriese modelle oor te skakel binne die volgende ses maande afhandel, het een bron gesê.

Hyundai het in April gesê hy sal die aantal petrolenjinmodelle in Sjina teen 2025 van 21 tot 14 verminder en vanaf 2022 elke jaar nuwe elektriese modelle vrystel.

Die groep het in Februarie gesê dat dit nie meer in besprekings met Apple is om 'n outonome voertuig te ontwikkel nie.

Bronne wat vertroud is met die saak het gesê dat die idee dat die groep 'n kontrakvervaardiger vir Apple sou word, sterk interne teenkanting ontlok het.

📞 📧 📝
Harvard

Yang, Heekyong; Carey, Nick; Guillaume, Gilles (28 Mei 2021). "Hyundai gaan aantal binnebrandenjinmodelle verminder, in EV's belê – bronne". Die Telegraaf. <https://www.telegraaf.co.za/2021/05/28/hyundai-gaan-aantal-binnebrandenjinmodelle-verminder-in-ev-s-bele-bronne>. Besoek op 3 Augustus 2021.

Afrikaanse Wikipedia

<ref>{{siteer web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/05/28/hyundai-gaan-aantal-binnebrandenjinmodelle-verminder-in-ev-s-bele-bronne |title=Hyundai gaan aantal binnebrandenjinmodelle verminder, in EV's belê – bronne |naam1=Heekyong |van1=Yang |naam2=Nick |van2=Carey |naam3=Gilles |van3=Guillaume |webwerf=[[Die Telegraaf]] |datum=28 Mei 2021 |toegangsdatum=3 Augustus 2021 |taal=af}}</ref>

Engelse Wikipedia

<ref>{{cite web |url=https://www.telegraaf.co.za/2021/05/28/hyundai-gaan-aantal-binnebrandenjinmodelle-verminder-in-ev-s-bele-bronne |title=Hyundai gaan aantal binnebrandenjinmodelle verminder, in EV's belê – bronne |first1=Heekyong |last1=Yang |first2=Nick |last2=Carey |first3=Gilles |last3=Guillaume |website=[[Die Telegraaf]] |date=2021-05-28 |access-date=2021-08-03 |lang=af}}</ref>